image

FOTOGRAFIE OP METAAL

  /  News   /  FOTOGRAFIE OP METAAL

FOTOGRAFIE OP METAAL

By: Mariana Zdara, Snr Conservator, DITSONG: National Museum of Cultural History

 

Die wêreld se eerste relatief permanente foto is in 1827 deur Joshep Nicephore Niepce (1795-1833), ‘n offisier in die Franse weermag en vloot, ontwikkel.

 

Portret van Joseph Niepce, ‘n Franse uitvinder en een van die eerste pioniers van fotografie (Bron: https://ctgpublishing.com/portrait-of-joseph-nicephore-niepce-1765-1833/).

 

In 1827 het Niepce ‘n laag ligsensitiewe jodelym (bitumen) en ‘n asfaltbestanddeel op ‘n plaat gesmeer en dit aan die agterkant van sy houtkamera vasgemaak.  Hy het die hele dag die kamera op een toneel laat konsentreer.  Daarna het hy die blootgestelde oppervlakte met ’n oplossing van laventelolie en wit petroleum gewas en stadig het ‘n prent vorm aangeneem.  Die bitumen wat nie hard geword het van die blootstelling nie is afgewas.  Die resultaat was ‘n permanente positiewe prentjie, waar die lig voorgestel is deur die bitumen en die skadu’s deur die tinloodallooi.  Dit is ‘n heliogram genome.  Heliogram beteken “met son geskryf”, omrede die figuur deur lig gevorm is.

 

Louis Daguerre, uitvinder van die daguerreotipe fotografiese proses (Bron: https://www.thefamouspeople.com/profiles/louis-daguerre-9626.php)

 

Die proses was egter onbevredigend vir normale fotografie, omdat die plaat agt ure lank blootgestel moes word aan lig.  In 1829 het Niepce en Louis J.M. Daguerre (1789-1857) ‘n vennootskap gesluit.  Niepce is in 1833 dood sonder dat daar groot vordering gemaak is.  Daguerre het voortgegaan om Niepce se heliogram te verbeter.  In 1837 het hy sy eerste daguerreotipe geskep en op 7 Januarie 1839 is die daguerreotipe bekend gestel. 

 

 

Daguerreotipekamera, 1839 (Bron: www. http://www.fotovoyage.com/the-daguerreotype-camera-1839/).

 

 

Die daguerreotipe het baie min in gemeen gehad met Niepce se bitumenplate of heliogravures.  Die material wat as basis gedien het, was geplateerde koper.  Soms is ook ‘n plaat van gepoleerde silwer gebruik.  Daarom het dit bekend gestaan as mirrors with memory.

 

Die plaat is sensitief gemaak deur dit bloot te stel aan jodiumampe. ‘n Jodiumsilwerfilm is op die oppervlakte agtergelaat.  Die sensitiewe plaat is in ‘n kamera gelaai en blootstelling het plaasgevind.  Die blootstellingstyd het gevarieer van tien minute tot een uur afhangende van hoe helder die lig was.  Nadat die plaat blootgestel is, is dit in ‘n ander doos geplaas, wat teen 45 grade oor ‘n warm pan kwik geplaas is. 

 

‘n Kwikplaat is gevorm. Die plaat is daarna met ‘n soutoplossing behandel wat al die silwerjodium opgelos het.  Fyn detail is waarneembaar op die beste voorbeelde van die daguerreotipes.  Die daguerreotipes het egter ook nadele, naamlik dat geen duplisering kon plaasvind nie en dat die proses baie duur was.  Verder was die oppervlakte geweldig fyn en bros gewees.

 

Vir buitenshuise fotografie moes die fotograaf ongeveer vyftig kilogram se toerusting saamdra.  Die ontwikkelings en fikseerprosesse moes ook alles uitgevoer word op die plek waar die foto geneem is, wat sake baie bemoeilik het.  In 1843 was die blootstellingstyd ongeveer tussen een tot twee sekondes of twee minute, afhangende van die weersomstandighede en die formaat van die daguerreotipe.

 

Die resultaat was ‘n beeld waarin die hoogtepunte bekelemtoon is deur ‘n amalgamasie van silwer en kwik en die skaduwees beklemtoon is deur die gepoleerde silwer.  Die plaat moes dus op ‘n sekere manier gehou word, sodat die donker oppervlakte gereflekteer kon word. 

 

Die reaksie op hierdie uitvinding was oorweldigend.  Opmerkings soos “’n groot ontdekking” en “dit is die natuur self “, is gemaak.

 

Die daguerreotipe is egter nie die voorloper van fotografie soos ons dit vandag ken nie.  Dié eer moet gegee word aan William Henry Fox Talbot (1800-1877), ‘n Engelsman, wat die negatief-positiefproses ontwikkel het.

 

Verwysings

  1. Brink, Photography’s 150th birthday 1839-1989, Museum Memo 18 (2), 1990.06. p. 24.

J.W. Burden, Graphic reproduction photography, p.18.

  1. Gernsheim en A. Gernsheim, A concise history of photography, p.15.

Camfield and D. Willis, History of photography techniques and equipment, p.12.

  1. de Mare, Photography, p. 20.

J.C Lemagny and A. Rouille, A history of photography, social and cultural perspectives, pp. 22-24.

  1. Davenport, The history of photography: An overview, p.9.